Langkloof

Joubertina Omtrent Ons Dit-en-dat Eetplek Besighede Natuur Geestelik

PLANTEGROEI

Onder-Kouga is ryk aan natuurlike plantegroei en dit is onmoontlik om in 'n artikel soos hierdie 'n volledige oorsig daarvan te gee. Slegs enkele voorbeelde van die planterykdom word dug vermeld.


'n Groot verskeidenheid bome word in die beskutte bergklowe aangetref, byvoorbeeld: assegaaihout (Curtisia dentata), broodboom (Encephalartos longifolius,) geelhout (Podocarpus latifolius) , kershout (Pterocelastrus tricuspidatus) , keurboom (Vigilia oroboides) , rooiels (Cunonia capensis) , stinkhout (Ocotea bullata) , witels (Platylophus trifoliatus) , witolienhout (Buddleja saligna,) witstinkhout (Celtis africana) en ysterhout (Olea capensis).11


'n Ander interessante houtsoort wat in die Kouga aangetref word, is die seldsame sapreeboom (Widdringtonia schwarzii) wat tot die familie Cupressaceae behoort en wat baie na aan die Clanwilliamseder (Widdringtonia cedarbergensis) verwant is. Hierdie sapreebome word tussen 12 en 21 meter hoog en die stam kan `n deursnee van tot 0,9 meter hê. Voordat die bome beskerm is, is hierdie bout, wat van nature insekbestand is, vir die maak van meubels, houtwerk in huise en as heiningpale gebruik.12 Weens die ontoeganklikheid en die ru geaardheid van die streek, was dit byna onmoontlik om die houtbosse op groot skaal te werk en het verskeie pogings in hierdie rigting telkens op mislukking uitgeloop. Veldbrande het egter die laaste honderd en vyftig jaar sy tol onder die natuurlike plantegroei geëis; veral die groot bergbrand van 1869 het die plase in Kouga kaal gebrand.13


Die immergroen fynbos kom op die hoogste dele van die Kougaberge voor, gewoonlik op daardie dele wat meer as 850 meter bo seevlak lê, waar die reënval hoog en die temperatuur koel is en wat in die wintermaande vir 'n kort tydjie met sneeu bedek is. Kenmerkend is die afwesigheid van bome in hierdie areas, terwyl sekere soorte proteas, bergriet, biesies, besemgoed, teebosse en suurgras algemeen voorkom. Laer teen die berghange is daar volop geelbos, steekbos, bloubos en tolbos. Veral volop is die renosterbos (Elytropappus rhinocerotis). Die bossie is egter nie eie aan Kouga nie, maar het weens bergbrande en oorbeweiding dominant geword. Volgens oorlewering is die renosterbos deur togryers as vuurmaakhout en medisyne na die wêreld gebring en het op die manier vervuil geraak.14


Die bergklowe is ook die natuurlike tuiste van slangbos, wilde-als, kruisement, boegoe, taaibos, braambos, klipdagga en gannabos.15 Teen die suidelike hellings van die berge vind 'n mens die verskillende proteas, waaronder die breëblaarsuikerbos (Protea eximia), witsuikerbos (Protea mundii), kranssuikerbos (Protea rupicola) en wabome (Protea arborea).16 Die noordelike hange van die berge ontvang meer sonskyn, is gevolglik droër en is die ideale tuiste vir aalwyne, byvoorbeeld die kransaalwyn (Aloe arborescens) en veral die bitteraalwyn (Aloeferox), wat feitlik sinoniem met hierdie wêreld geword het.17

Ook ander vetplante is volop in Onder-Kouga, byvoorbeeld Aridaria, Lithops, Ruschia, Sphelmathus en dan natuurlik die spekboom (Portulacaria afra).18

Verspreid tussen al die ander gewasse groei daar volop heide (Ericaceae) in die Onder-Kouga; wat saam met 'n groot verskeidenheid ander veldblomme 'n kleurryke voorkoms aan die veld gee. Mej. Elsie Esterhuysen, verbonde aan die Bolus-herbarium van die Universiteit van Kaapstad, het in die jare veertig/vyftig vroualleen die Kougaberge ingevaar - tot groot ontsteltenis van die bewoners - en 'n groot aantal eksemplare van die heide in daardie geweste versamel. Onder haar eksemplare was daar ook enkeles wat nag nooit voorheen beskryf is nie.19


DIERE- EN VOËLLEWE


Hoewel Kouga sy naam aan of die blouwildebees of die seekoei te danke het, kom nie een van hierdie diersoorte meer in die gebied voor Die. Boksoorte wat wel in die Kougaberge aangetref word, is duikers, klipspringers (hier ook klipbokke genoem) , rooiribbokke (wat baie skaars is), steenbokke (hier ook stembokke genoem) en vaalribbokke (wat betreklik volop is)., Luiperds (hier vry algemeen nog tiers genoem) , muskejaatkat (hier ook muskeljaatkat genoem) , rooikatte en wildekatte gee tot vandag toe die boere wat nog kleinvee en pluimvee aanhou baie ergernis, terwyl die gebande muishonde (hier kommetjiesgatmuishond genoem) , ratel, rooijakkals, maanhaarjakkals (hier ook ruijakkals genoem),  stinkmuishond en ystervark ook hulle deel tot die boer se ergernis hydra. In die berge is daar ook die dassie, die spring- en rooihaas en natuurlik die burger van die berge: die bobbejaan.20


Van die bekendste voelsoorte in die Onder- Kouga is die volgende: hadeda (84), gewone aasvoël (ook genoem rinkalskraai) (106), blouvalkie (130), witkruisarend (ook genoem lammervanger) (133), berghaan (ook genoem kuikendief) (151), bergpatrys (176), Kaapse fisant (181), tarentaal (192), kiewietjie (242), bosduif (311), tortelduif (316), Knysna-loerie (336), Piet-my-vrou (343), nonnetjie-uil (ook genoem nooiensuil) (359), gevlekte muisvoël (390), byvreter (404), heuningwyser (440), kransswawel (506), huisswawel (507), witborskraai (522), spekvreter (hier dag- of dakbrekertjie genoem) (570), kwikkie (ook genoem kwikstertjie) (686), laksman (ook genoem karnalliebyter) (707), waterfiskaal (ook genoem kokkewiet) (709} bokmakierie (722), witgat-spreeu (746), suikerbekkie (753 en 760), Kaapse glasogie (hier genoem kersogie) (755), Kaapse kaffervink (810), rooibekkie (843) en Kaapse kanarie (857).21



STREEK- EN PLEKNAME


Navorsing wat deur die pleknaamkundiges G.S. Nienaber en P.E. Raper onderneem is, het die volgende spellingvariante van die naam Kouga vir die rivier en bergreeks, soos dit op enkele ou kaarte voorkom, aan die lig gebring: Kauka en Kauka (Wentzel, 1752); Kauga (Sparrman, 1775); Kauwka (Cloete, 1776); Cauga

(Swellengrebel, 1776); Coecha (Leysten, 1785); Cauka, Koucha, Kouwka (Van de Graaff, 1785-1794) en Kooga (Barrow, 1797-1798)22 J.A. Heese is van mening dat die naam Kouga blouwildebees" beteken. E.J. du Plessis en P. E. Raper het verder gegaan en 'n moontlike verklaring aangaande die oorsprong van die naam daarin gesoek dat dit waarskynlik van die Hottentots gou (= "vet wees") plus die suffiks -xa, wat oorvloed aandui, afgelei is. Die Namawoord vir wildebees is volgens Raper gaub, en as in aanmerking geneem word dat die wisseling g/k in Hottentots gewoon is, sal die streeknaam Kouga beteken: "ryk aan wildebeeste", waar -xa die suffiks is wat oorvloed aandui. Du Plessis, meen dat Kouga ook moontlik met berg (Nama /ui-b, en in Boesman 'n woord soos kou) verband mag hou.23


Die laaste woord oor die herkoms van die streeknaam Kouga behoort tot op hede aan Nienaber en Raper. Hulle skryf: "Die grondwoord is Khoekhoens vir 'seekoei'. Daar is baie vindplase vir 'seekoei' in Ou Kaaps, goed oorgelewer, en hulle stem goed ooreen met Nama !kao-, !khau-, asook met die eerste lid van die riviernaam (d. w.s. Kouga) hierbo; die -gha is klaarblyklik soos Nama -xa = 'volop van, ryk aan'. Die inboorlingnaam beteken dus 'Seekoeirivier', in Nama !kaos (!khaos).24 Daar bestaan dus verskil van mening aangaande die oorsprong van die naam Kouga maar almal is dit eens dat dit wel van Hottentotsoorsprong is en dat die naam sterk vereuropees is wat betref vorm, spelling en uitspraak.


Interessant is dit ook om te weet dat daar in die agtiende eeu wel 'n Hottentotkaptein met die naam Kouga was.

Ons lees dat hy tydens die pokke-epidemie van 1713 oorlede is en dat hy as kaptein deur Kouga (Junior) opgevolg is.25


Die plekname van die Onder-Kouga lê lekker op die tong en die meeste daarvan weerspieël die bergagtigheid en bodemgesteldheid van die streek, want -berg, -kop, -kloof, -vlakte, -hoogte, -laagte, -hoek en rivier kom telkens voor, byvoorbeeld Paardeberg, Tafelberg, Eselberg, Kougakop (Hoëkop), Besemgoedkloof, Patryskloof, Brakkloof, Skilderkranskloof, Ghwarriekloof, Brandekloof, Grootkloof, Draaikloof, Platvlakte, Rooihoogte, Skilpadlaagte, Brandhoek, Schrikkerivier, Boesmansrivier, Braamrivier, ] aapsrivier, Kleinrivier, Huisrivier, Opkomstrivier en Dieprivier. Ander name is Onderplaas, Aangenaam, Rooidam, Opkomst, Houmoed, Fisantkop, Stillerus, Weltevrede, Stuurmanskraal en Hoeree. Die oorsprong van die meeste van hierdie plekname is voor-die-hand-liggend, maar  enkeles gee tog probleme. Vanwaar die naam Opkomst? Was Hoeree 'n uitroep van verligting na 'n moeisame tog oor 'n byna onbegaanbare roete? En was Stuurmanskraal werklik die plek waar die Hottentotkaptein Klaas Stuurman 'n kraal gehad het nadat hy tydens die Bataafse bewind (1803-1806) ingewillig het om in 'n lokasie langs die Gamtoosrivier te gaan woon en 'n einde aan sy rondswerwery te maak?26


NIE-BLANKE BEWONERS


Die eerste bewoners van die Kougastreek was waarskynlik die Boesman, aangesien daar vandag nag in bakkranse, byvoorbeeld op die Onderplaas en Stillerus, voorbeelde van hulle rotskuns en ander reste te vinde is. Sovêr bekend, is hierdie streek se Boesmankuns nog nooit behoorlik gedokumenteer nie.


Die bergwêreld met sy klowe en spelonke en baie wild was natuurlik vir die Boesman 'n ideale tuiste sodat die Blankes daar veel later aan hulle moord- en rooftogte blootgestel was as die Langklowers. Oorlewering wil dit dan ook hê dat 'n jong dogter van die familie Minne op wreedaardige wyse deur die Boesmans vermoor is, waarop die Boere hulle as vergeldingsmaatreël in hulle grotwoning vasgekeer het.

Daarna het die Boere die bek van die grot met hout toegepak, maar die hout is telkens deur die Boesmans in die grot ingesleep. Toe die grot vol was, het die Boere die hout aan die brand gesteek sodat al die Boesmans of versmoor of verbrand het.27 Van die ouer bewoners van die streek beweer selfs dat daar nog aan die begin van hierdie eeu enkele Boesmans opgemerk is.


Die Boesmanjagters moes ook in die Kouga geleidelik vir die Hottentotveeherders plek maak. Die duidelikste bewys hiervoor is die streeknaam Kouga, wat -soos hierbo reeds aangedui -ongetwyfeld van Hottentots-oorsprong is. Dit is nie bekend wie die kaptein van die Hottentotte in hierdie omgewing was nie, maar tydens die Bataafse bewind (1803-1806) was genl. J.W.Janssens begerig om die Hottentotte teen die Blankes te beskerm, maar wou ook 'n einde aan hulle rondswerwery, die bron van soveel ergernis vir die Blankes, maak.

Daarom het hy aan die verskillende Hottentot-kapteins lokasies aangewys waar hulle in vrede sou kon woon. So het die  Hottentot-kaptein Klaas Stuurman byvoorbeeld ingewillig om in 'n lokasie langs die Gamtoosrivier te gaan woon.28 Wanneer ons in gedagte hou dat daar by Opkomst 'n plek met die naam Stuurmanskraal is, is dit me so vergesog om af te lei dat die Hottentotte van die Onder-Kouga waarskynlik onderdane van Stuurman was nie. In Paravicini di Capelli se reisjoernaal lees ons juis dat Klaas Stuurman in 1799 gemene saak met die Xhosa teen die Blankes gemaak het.29 Pokke-epidemies was moontlik ook in hierdie gebied die rede vir die verdwyning van die Hottentotte.30


Hoewel daar vandag feitlik geen Swartes in die Onder-Kouga aangetref word nie, was die gebied en hoewel daar vandag feitlik geen Swartes in die Onder-Kouga aangetref word nie, was die gebied en Langkloof tog teen die einde van die agtiende eeu aan sporadiese aanvalle van die Xhosa onderhewig. So byvoorbeeld skryf provisionele veldkornet Stephanus Ferreira van Langkloof op 31 Julie 1799 dat hulle tussen die "Swartes en moordenaars" is en dat baie bloedvergieting voorkom. In 'n naskrif merk hy op dat daar by God steeds hoop te vinde is as elkeen sy bes doen.31 Ook Lichtenstein verwys na sy eerste kennismaking met Swartes in die Langkloof.32


Die Kougastreek het 'n baie klein persentasie Kleurlinge gehuisves en hierdie stand van sake duur steeds voort.


REISIGERS


Vroeë reisigers en jagters - veral olifantjagters – aan die Kaap het op hulle reise ooswaarts gewoonlik tussen Plettenbergbaai en die Tsitsikamma op die haas ondeurdringbare natuurlike bosse gestuit en is dan verplig om hulle roete in 'n noordwaartse rigting te verander, deur byna onbegaanbare passe te trek en dan in 'n oostelike rigting in die Langkloof af te beweeg.33


Sover bekend, het nie een van hierdie reisigers die Kougastreek persoonlik besoek nie, maar in hulle joernale vind ons tog verwysings na die gebied. Die eerste Blankes wat Langkloof binnegetrek het, was amptenare van die Vereenigde Oost-Indische Compagnie wat as 'n kommissie uitgestuur was om die gebied van die Outeniekwaberge (Attaquas) tot by die Keirivier te ondersoek.


Die kommissie, onder aanvoering van August Frederik Beutler, het die Outeniekwaberge in April 1752 oorgesteek.

Hulle was toe reeds bewus daarvan dat die Gamtoosrivier sy oorsprong in die Kougaberge het, want wat vandag as die Kougaberge bekendstaan, word in die verslag genoem "het Gamtousch gebergte 2 mijl van ons".34 In 1773 verwys C.P. Thunberg, die Sweedse medikus en botanikus, na Kouga (hy spel dit Kouka) as 'n smal strook land tussen die berge wat alreeds deur koloniste binnegedring is, hoewel daar slegs vir twee plase

plek was.35


In 1778 skryf R.J. Gordon, Kaapse militêre bevelhebber en ontdekkingsreisiger, "het hoge gebergte aan de land zyde hiet hier Coughas gebergte. De Caugha of Zeekoei rivier begint digt by de Rietvaley vier uren west van diepe rivier, ...en loopt ...in Gamtous rivier" 36


BLANKE VESTIGING


Sover bekend, is Thunberg se verwysing in 1773 die vroegste aanduiding van Blanke bewoning in die Kouga.


Op 6 Augustus 1809 deel lt.-kol. Richard Collins, kommissaris van die oostelike grensdistrikte van die Kaapkolonie, Ons die volgende aangaande die streek mee: "A great part of this country is almost unknown. The inhabitants of Langkloof have always declared that the quarter of Kouwgha was uninhabitable, in order that no intruders should disturb them in the possession of its pasturage. One person who has held his herds on an excellent

lot of land during twenty years, without paying the loan rent, affected to be greatly surprised lately at a stranger having discovered a mode of making a waggon road to it, and obtaining it in loan from government. It would be a great benefit, and worth some sacrifices on the part of the public, to have this tract settled. It is a blank now in the midst of cultivation, and is not resorted to, except by deserters."37


Soos ook elders die geval was, is al hierdie plase aanvanklik as leningplase uitgegee, waarvoor 'n boer 24 riksdaalders per jaar aan die VOC betaal het, tesame met 'n tiende van die oes. Eers teen omstreeks 1820 het plase eiendomsplase geword en kon kaart en transport aan die eienaars gegee word.38


Teen 1815 was al die belangrikste plase in die 0nder-Kouga reeds beset. Op Kleinrivier vind ons Salomon Ferreira en sy vrou, Magdalena Lindeque, op Brandhoek Theodorus Cornelis Minne en sy vrou, Maria Ferreira; op Hoeree Johan Jacob Jerling en sy vrou, Maria van Dyk; terwyl Braamrivier en Opkomst aan Johannes Hendricus Scheepers, getroud met Christina Minne, behoort het.39



BEVOLKINGSVERSPREIDING


Die bevolking van die Onder-Kouga is in 'n aantal kleiner gemeenskappe gekonsentreer, naamlik die van Hoeree, Kleinrivier, Brandhoek, Braamrivier en Opkomst. Hierdie verskillende gemeenskappe is min of meer reëlmatig deur die hele streek verspreid, terwyl die gebiede tussen die verskillende gemeenskappe feitlik totaal onbewoond is. Die  bevolkings-verspreiding in die Onder-Kouga neem dus 'n kolsgewyse patroon aan, wat alleen geografies en sosiologies verklaar kan word.


Wat geografiese faktore betref, het besproeiings moontlikhede seker die meeste daartoe bygedra om die patroon van bevolkingsverspreiding in die Onder-Kouga vas te stel. Die eerste bewoners het hulle opstalle op die oewers of in die onmiddellike nabyheid van die riviere aangelê. Ook die bou van die streek was 'n belangrike geografiese faktor wat 'n invloed op die  bevolkingsverspreiding uitgeoefen het, want die vroeë intrekkers het hulle graag in die "ooptes" tussen die berge gevestig, dit wil sê daardie gedeeltes waar redelik groot bekkens tussen die berge voorkom, terwyl beskutte valleie vir ander meer aantreklik was. Ook die geologiese formasies, en die daarmee gepaardgaande grondsoorte, het sy invloed op die bevolkingsverspreiding gehad. Die Bokkeveldformasies veroorsaak dat die meeste valleie bewoonbaar is, aangesien dit soet en vrugbare gronde oplewer, terwyl die Tafelbergsandsteen gewoonlik so arm is dat gewasse nie daarop sal groei tensy bemesting toegedien word nie.

Langs die rivierlope vind ons ook die vleisand-gronde, wat 'n digte bevolking moontlik maak.41


Onder die sosiologiese faktore wat meegewerk het om die bevolkingsverspreiding in die Onder-Kouga te bepaal, is die vasklewing aan erfgrond seker die belangrikste. Ten spyte van die steeds moeiliker wordende stryd om te bestaan, het toenemende nageslagte op die plase van hulle voorouers bly woon.

Hierdie verskynsel het tot herhaalde verdeling en gesamentlike besit van die oorspronklike familieplase gelei.


As gevolg van verdeling en herverdeling van erfgrond is dit dikwels in onekonomiese eenhede opgesnipper. So ingewikkeld het die proses van herverdeling geword dat daar 'n periode was dat min inwoners kaart en transport van hulle grond kon toon. Danksy die ingrype en tegemoetkomendheid van die regering het die stand van sake in die jongste tyd aansienlik verbeter. Dan was daar vroeër ook sekere inherente persoonlikheidstrekke wat by sommige inwoners besonder sterk ontwikkel was. So is kinders in die verlede deur hulle ouers aangemoedig om hulle op die plaas te vestig, aangesien die ouers 'n sterk weersin in die buitewêreld gekoester het. Verder het die mense 'n sterk gees van “plaassisme" gehad, wat elke familie of gemeenskap in 'n groot mate selfversorgend gemaak het. Die vroeëre sosiale isolement van die bewoners was in 'n groot mate die gevolg van die  geografiese isolement waarin die streek verkeer het. Vanweë gebrek aan kontak met die buitewêreld het familiehuwelike vroeër dikwels voorgekom, terwyl ook die neiging om erfgrond binne die familie te hou in die verlede heel dikwels tot ondertrouery aanleiding gegee het. Ook hierdie verskynsel het meegewerk om die bevolking vir 'n lang periode in feitlik konstante groepe byeen te hou.


Aangesien die geografiese en sosiale afsondering grootliks iets van die verlede is, het hierin ook groot verandering gekom.42

Wanneer vroeë lyste van stemgeregtigde burgers van die Kaapkolonie43 nagegaan word, vind mens interessante inligting aangaande die bevolkingsverspreiding volgens familiename:


Aantal stemgeregtigdes

OJO.- Okker Been - Ferreira 1878-1937 en sy gesin In 1910. Uiteindelik was hy die vader van sestien kinders vir Onder-Kouga hoegenaamd nie 'n buitensporige aantal nie FOTO: OJO. FERREIRA

KOUGA-FAMILIES


Hoewel daar deur die jare ook ander familiename in die Onder-Kouga voorgekom het, bly dit nog altyd in wese die hartland van die Gerbers en die Ferreiras.


Hendrik Matthys Gerber (1768-1822), wat hom tussen 1814 en 1817 op Braamrivier gevestig het, was die oudste seun van die stamvader Franz Anton Gerber, oorspronklik van Epsig in Elsas wat in 1758 in Suid-Afrika aangekom het. Aanvanklik was die stamvader soldaat en later wamaker in diens van die VOC en is in 1767 met Catharina van Dyk getroud. Hendrik Matthys is in Kaapstad gebore en is in 1796 op George met Maria Magdalena Terblanche (1780-1861) in die huwelik bevestig. Die drie jongste van die elf kinders uit hierdie egverbintenis is op Braamrivier gebore in 'n huis wat tans nog bestaan.45


Die eerste twee Ferreiras wat hulle in die Onder-Kouga gevestig het, was Johannes Theodorus (gedoop 1803) en Salomon Stephanus (1807-1874). Hulle was die twee jongste seuns van Petrus Hendrik Ferreira (1769-1839) en sy vrou, Martha Johanna Ferreira (gedoop 1772), die bekende "Kwaai Martha" van die Swart Omgang van 1812-1813, wat tussen 1804 en 1807 op Elandsfontein in Langkloof gaan woon het. Johannes Theodorus en Salomon Stephanus se grootouers aan vaderskant was Petrus Hendrik (gedoop 1736), kommandant, heemraad en kranige skut, en sy vrou, Catharina Maria van Staden (gedoop 1739), wat hulle in 1771 op Misgund gevestig het. Johannes Theodorus en Salomon Stephanus se oorgrootouers was Ignatius Ferreira (±1696-1772), stamvader van die Ferreiras, afkomstig van Lissabon in Portugal en een van die bemanningslede van die Chandos, 'n skip van die Engelse Oos-Indiese Kompanjie wat tydens 'n hewige storm in die nag van 16 of 17 Junie 1722 in Tafelbaai gestrand het, en sy vrou, Martha Terblans (gedoop 1717). Johannes Theodorus het met Johanna Jacomina Prinsloo getrou en Salomon Stephanus in 1831 met Martha Jerling en in 1846 met Helena Elizabeth Petronella Rautenbach (néé Zaayman).46


BYNAME


Wanneer 'n betreklike geslote gemeenskap hoofsaaklik die familiename Gerber en Ferreira dra, ondertrouing tussen hierdie families oor en weer en ook onderling plaasvind en die tradisie van familienaamgewing sterk voortleef, kan persone wat dieselfde naam dra later alleenlik deur die gebruik van byname geïdentifiseer word.

In die Onder-Kouga is daar verskillende vorme van bynaamgewing, byvoorbeeld: waar die vader se noemnaam na die seun se noemnaam geplaas word en dus "seun van" aandui: Fanie "Pieter", Klaas "Danie" en John "Frans"; waar die woord "Klein" voor 'n persoon se noemnaam daarop dui dat sy vader dieselfde noemnaam dra: "Klein" Klaas en "Klein" Haastig (laasgenoemde dui natuurlik daarop dat vader en seun selfs dieselfde bynaam "Haastig" dra); waar die moeder se noemnaam na die seun se noemnaam geplaas word en dus "seun van" (waarskynlik 'n dominante moeder) aandui: Frans "Lotta", Thys "Nellie" en Andries "Lottie": waar 'n vrou se noemnaam deur haar man se noemnaam of selfs bynaam gevolg word: Lena "Rooi Jan", Bettie "Drik", Hanna "Klein Piet" en Lenie "Andries"; waar die noemnaam voorafgegaan of gevolg word deur 'n woord wat die voorkoms van die persoon beskryf: "Rooi" Jan, "Swart" Naas, "Groot" Hendrik, Ockie "Buks", "Dik" Jan, "Klein" Piet en Jan "Been"; waar die noemnaam voorafgegaan of gevolg word deur 'n woord wat die persoon se karakter of geaardheid aandui: "Stille" Jan, Japie "lood", Hendrik "Kriek" en Hendrik "Haastig"; waar die noemnaam gevolg word deur 'n woord wat die persoon se beroep of verbintenis met 'n bepaalde gebeurtenis aandui: Danie "Bokkekoop", Piet "Boer", Pieter "Pos", Manie "Stuurman", Dries "Weeskind" en Piet "Ghosa"; waar die noemnaam deur 'n plaasnaam gevolg word: Klasie "Tierkloof', Wanneer gesinne baie groot was, het die familiename "opgeraak" en is elders name gesoek, byvoorbeeld Joseph Johannes Fourie Ferreira (gebore 7 Augustus 1915), wat vernoem is na die volksheld Jopie Fourie, wat

die vorige jaar tydens die Rebellie tereggestel is; Andrew Murray Ferreira en Adriaan Lodewikus Ferreira, wat onderskeidelik na twee predikante, d.i. Andrew Murray en A.J,L. van Rensburg, vernoem is; Tryfena, Tryfosa en Euodia Ferreira, wat na Bybelse vroue vernoem is; en dan sommer 'n wildvreemde naam soos Veronica.47


Wat die getalle vir 1903 betref, moet egter onthou word dat Daniël Gerber en Pieter Kemp van Braamrivier en Pieter Johannes Kriel en Matthys Johannes Vosloo van Hoeree hulle stemreg lewenslank verloor het omdat hulle as Kaapse rebelle aan die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) deelgeneem het.44


Selfs vandag nag word Hoeree deur Vosloos (maar ook  Oelofsens) , Kleinrivier deur Ferreiras, Brandhoek deur Gerbers en Ferreiras, Braamrivier deur Gerbers en Opkomst deur Ferreiras bewoon.


KARAKTER


Onder geleerdes bestaan daar verskil van mening oor die vraag in hoe 'n mate die karakter van mense deur hulle omgewing beïnvloed word, maar dit wil tog voorkom asof daar 'n besliste invloed van die omgewing op die mens en die verwesenliking van sy begeertes uitgaan.48


Die Onder-Kouga is miskien juis 'n goeie voorbeeld van hoe die omgewing 'n gemeenskap bepaalde karaktertrekke kan gee, maar dan moet daar ook dadelik gekonstateer word dat die bewoners van Kouga, hoewel hulle gemeenskaplike karaktertrekke besit, individualiste by  uitnemendheid is.


Vanweë die hardheid van die streek, die aanvanklike ontoeganklikheid en die sporadiese "vloedens" was dit alleen mense met deursettingsvermoë en volharding wat hulle in hierdie gebied gevestig en ook daar gebly het.


Hierdie uitstaande karaktertrekke van die baanbrekers in die Onder-Kouga is steeds in hulle nageslagte te bespeur.


Omdat hierdie mense na aan en uitsluitlik uit die aarde leer, het hulle 'n diepe afhanklikheidsgevoel van hulle Skepper, die Gewer van reën wanneer dit nodig is, maar wat ook Sy ongehoorsame kinders straf deur droogtes, hael of vloede. Dis opreg gelowige mense hierdie, hoewel buitestanders dit somtyds as 'n oordrewe vroomheid beskou.


Die aanvanklike afsondering waarin die Kouga-mense geleef het, het hulle nie menssku gemaak nie, maar was juis die rede waarom vriend en vreemdeling met die grootste gasvryheid ontvang is. Die inwoners het oop harte en oop voordeure vir hulle wat van die grootpaaie wil afdraai om vir 'n wyle die rustigheid en vrede van die wêreld te ervaar.


Saam met die gasvryheid gaan ook 'n opregte belangstelling in die doen en late van hulle medemens.


Hulle is geselsers en storievertellers by uitnemendheid.


Gesels en storievertel was trouens vroeër een van die belangrikste vorme van ontspanning. Die belangstelling in hulle medemens het hulle laat inluister op die plaastelefoonlyn.


Inligting aangaande hulle medemens is graag oorvertel. Kwaadwilliges- noem dit "skinder", maar vir hierdie mense het dit in 'n ander, meer positiewe kategorie geval.


Soos in elke gemeenskap het die Onder- Kouga ook sy enkele twisgieriges en dwarstrekkers. Daar was maar altyd - en is waarskynlik nog steeds - geskille oor waterbeurte, draadheinings, voetpaadjies oor privaateiendom, skoolkwessies en die politiek.

Die aanvanklike afsondering van die mense het hulle ook basies behoudend gemaak. Vir 'n baie lang periode is nuwe boerderymetodes, die instelling van 'n padvervoerdiens, ensovoorts, met agterdog bejeën. Maar behoudendheid het ook sy positiewe kant, want voordat hierdie mense nuwe rigtings aanvaar, maak hulle eers baie seker dat dit wel 'n verbetering op die ou en bekende is.


Suikerbekkie J. T. (Jan Klaas) Ferreira (geb. 1854) en sy gesin in ca. 1900. Sy eggenote, Petronella (Nellie) Susanna Gerber, was waarskynlik die dominante figuur In die gesin, want twee van die seuns het haar noemnaam as bynaam tot hulle noemname gedra

PLAASUITLEG  EN WONINGBOU


Onder die opskrif Bevolkingsverspreiding is reeds aan die geografiese en sosiologiese faktore wat tot die kolsgewyse bevolkingsverspreiding van die Onder-Kouga aanleiding gegee het, aandag geskenk.


Wat plaasuitleg betref, is dit moeilik om 'n vaste patroon vas te stel, want juis hierdie "gemeenskapsplase", waar die huise en buitegeboue dig opmekaar gebou is en 'n buurman se huis somtyds nader aan 'n boer se woonhuis is as sy eie waenhuis of stal, maak enige afleidings feitlik onmoontlik. Wat wel met redelike veiligheid gestel kan word, is dat elke negentiende-eeuse plaasopstal in die Onder-Kouga uit ten minste 'n woonhuis, 'n waenhuis, 'n stal (somtyds met die waenhuis gekombineer) en 'n klein veekraal bestaan het. Indien 'n mens die nog bestaande geboue in ag neem, wil dit voorkom asof die plasing van hierdie verskillende strukture geen vaste patroon gevolg het nie. Dat die oorgrote meerderheid van die huise se voordeure na die pad geplaas is, lyk na meer as blote toeval.


Woonhuise is gewoonlik nie te vêr van 'n rivier nie, maar altyd bokant die hoogste vloedlyn gebou. Die grondplanne van die huise wat in die negentiende eeu gebou is, vertoon nie 'n vaste patroon nie, want I-, L- en T-vorms kom in sterk gewysigde vorms voor, met eersgenoemde as die gewildste vorm - bestaande uit 'n kombuis, voorhuis en twee of meer slaapkamers. Die aanvanklike boumateriaal was lae klei wat in houtvorms opmekaar gestapel is. Later is rousteen, gebakte steen en, in enkele gevalle, gekapte klip vir die bouwerk gebruik. Totdat sinkdakke in algemene gebruik gekom het, was strooi die dakbedekkingsmateriaal. Die oudste huise het grond of miershoopvloere gehad, wat met beesmis bestryk is en waarin daar kunstige perskepitpatrone by die ingange ingelê is. Baie van hierdie vloere is later met sementvloere vervang, terwyl die nuwer huise plankvloere het. Geelhout was besonder gewild vir die maak van balke en deurkosyne.


Uiterlik is die huise eenvoudig en sonder enige versierings-motiewe. In baie gevalle is hierdie treffende eenvoud deur latere aanbousels versteur.


Sover bekend, is die oudste bestaande huis in die Onder-Kouga die een wat in ongeveer 1815 deur H.M. Gerber (1768-1822) op Braamrivier gebou is.49


LANDBOU


Reeds teen die einde van die vorige eeu het die bewoners van Kouga met pitlemoene geboer. Die boorde het diep in die klowe langs die rivieroewers gelê. Kouga was bekend vir sy mooi gesonde soet lemoene en nartjies en veral tydens die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) her die lemoenboere goed geld verdien, omdat daar oorsee 'n groot vraag na lemoene vir die vegtende soldate was. Hierdie bloeiperiode was egter van korte duur, want in die middel van die oorlog het die groot vloed van 1916 gekom en die lemoenboorde letterlik met grond en al weggespoel.


Die einde van hierdie winsgewende bedryf was vir die boere 'n harde slag en het verarming tot gevolg gehad. Geleidelik is nuwe lemoenboorde aangeplant en in die jare twintig was die meeste boere weer mooi op die been. In die vroeë jare dertig het die wêreld-depressie ook hierdie afgesonderde gemeenskap getref. Bowendien het die groot vloed van 1932 weer eens die lemoenboorde weggespoel en het rooiskaal en wortelvrot die sitrusbedryf finaal geknak. Na 1932 het die boere hoofsaaklik nawellemoene aangeplant en hoewel dit nag vir lank daarna die hoofbron van inkomste in Kouga was, was die bloeiperiode wat lemoene betref vir altyd verby.50


Sovêr bekend, is die eerste kommersiele appelbome in 1904 deur Alexander Baldie op sy plaas Misgund-Oos in die Langkloof geplant, maar eers teen ongeveer 1928 het die ander boere in die Langkloof sy voorbeeld begin volg.51 Die Kougaboere het ietwat later, toe dit geblyk het dat die lemoenboerdery nie meer so winsgewend was nie, ook met sagtevrugte begin boer. In Onder-Kouga is dan ook 'n redelike hoeveelheid appelkose, perskes, pere en appels geproduseer. Tans is vrugteboerdery steeds een van die belangrikste bronne van inkomste in die gebied.


Die besproeibare lande in die beskutte valleie, met volop water en vrugbare grand, is uitnemend geskik vir groenteverbouing. Selfs tussen die vrugtebome is vroeër groente geplant, byvoorbeeld aartappels, patats, uie, knoffel, pampoene, erte, bone, mielies, kaffer-waatlemoene, waatlemoene en spanspekke. Die bewoners van Kouga vat al hierdie produkte onder die algemene benaming "na-oes" saam. Die boerdery in Onder-Kouga was in die ware sin van die woord 'n gemengde boerdery, want elke boer het feitlik 'n ietsie van alles op sy plaas gehad en was in elk geval, wat voedsel betref, selfvoorsienend.52


Die droë lande, dit wil sê die lande wat nie uit die rivierlope onder besproeiing gebring kan word nie, was gewoonlik op plato's, in hierdie wêreld "vlaktes" genoem, geleë.


Hierdie lande is vir graanverbouing gebruik en in goeie jare is mooi oeste koring en hawer ingesamel.


Op klein skaal is daar ook in Kouga bossietee gemaak. In teenstelling met die suurveldtee van Langkloof, word in Kouga die soetveldtee aangetref, wat kleiner van blaar is. Die teebossies is merendeels in die veld afgesny, gekerf en moes dan 'n  sweetproses deurgaan.53


Die grootste probleem van die landbouers was die feit dat hulle geografiese afgesonderdheid hulle ook van afsetgebiede en markte afgeskei het en die daarmee gepaardgaande vertraging van produktevervoer.


VEETEELT


Vroeër is geglo dat die Onder-Kouga te berg- en bosagtig vir skaapboerdery is en dat alleen boerbokke op 'n winsgewende wyse daar aangehou kon word. Geleidelik het die boere tog met merinoskape begin boer en in die jare vyftig toe die wolprys besonder gunstig was, was die inkomste wat uit wolproduksie verkry is, nie onbeduidend nie. Roofdiere en veesiektes soos bloutong, geilsiekte, galsiekte, hartwater en lewerslakke het die veeboere egter baie hoofbrekens besorg.


Min mense is daarvan bewus dat daar in die vorige eeu ook 'n perdeboerdery op Braamrivier was. Daar het J.M. Gerber (1819-1888) met perde geboer wat somtyds selfs op George aan perdewedrenne gaan deelneem het.54


Opstal van die plaas Vêrdink, deur O.J. O. (Ockie Been) Ferreira (1908-1969) in 1936 gebou. Huise is in Onder-Kouga bokant die rivier se vloedlyn en gewoonlik met die voordeur na die pad gebou. (Kliek vir groter beeld) Die oudste huis op Braamrivier, in ca. 1815 deur H.M. Gerber (1768-1822) gebou. Op die voorgrond is die klipkraal en 'n gedeelte van die waenhuis-stal-kompleks sigbaar. (Kliek op foto vir groter beeld) Woonhuis op die plaas Stillerus, deur OJ. O. (Okker Been) Ferreira (1878-1937) teen ca. 1900 gebou. Die latere vergroting van die huis, genoodsaak deur 'n groeiende kindertal, is duidelik sigbaar (Kliek op foto vir groter beeld)

VERBINDING MET BUITEWÊRELD


Wanneer 'n mens vandag die ongeveer 30 kilometer goeie geskraapte grondpad met motorhekke van Joubertina na die hart van Onder-Kouga afjaag, dink jy byna nostalgies aan jou kinderdae in die wêreld toe 'n rit per motor of vragmotor na die dorp met 'n gevaarlike smal kronkelpaadjie 'n ware avontuur was en jy sowat 24 konsertinahekke oor 'n afstand van 30 kilometer met moeite moes oop- en toemaak. Dan dink jy ook aan die ondernemingsgees en volharding wat die eerste baanbrekers van die Onder-Kouga moes gehad het om oor hierdie berge en deur dale paaie uit te kap waarlangs hulle met muilwaens gery het om hulle lemoene en ander produkte na Port Elizabeth se mark aan te ry. Hierdie pad het die ou boere nie alleen met die Langkloof verbind nie, maar deur die togryery na "die Baai" ook met die groot wêreld daarbuite.


Hoe verrykend moes hierdie besoeke aan Port Elizabeth nie vir die togryers gewees het nie! Sedert die laat dertigerjare is die transportwaens geleidelik deur transportvragmotors - of liewer transportlorries - vervang. Vrag en passasiers is met sulke lorries vervoer en vir die enkelinge wat hulle hierop toegelê het, het dit 'n handige ekstra verdienste in die sak gebring.


In 1907 is 'n smalspoor tussen Port Elizabeth en Avontuur gebou waarop die "Peertreintjie" geloop het.


Die trein het eers later die "Appeltrein" geword en deesdae lees 'n mens op toeristebrosjures van die rariteit, die "Apple Express". Die smalspoor het die togryery na "die Baai" uitgeskakel, want alle produkte uit Onder-Kouga kon nou net tot by die spoorwegstasie op Joubertina vervoer word. Op 'n manier was dit jammer, want waarskynlik het dit daartoe bygedra dat die mense al minder van hulle eie omgewing af weggekom het.55


Die verbinding met die buitewêreld is ook bemoeilik deur die aanvanklike afwesigheid van en latere tekort aan telefone. Wanneer in aanmerking geneem word dat 'n telefoondiens in Langkloof eers teen omstreeks 1916 ingestel is, en die Onder-Kouga eers in 1930 aan die beurt gekom het, kan 'n mens besef in watter afsondering die mense vir 'n baie lang periode gewoon het. Die eerste huurtelefone is so versprei dat Opkomst, Braamrivier en Brandhoek elk oor een telefoon beskik het.


Sedert die jare vyftig het die aantal plaastelefone vinnig toegeneem. Die opwinding wat die aankoms van die eerste radiostel – of liewer draadloos - van mej. Anna Oosthuizen, die onderwyseres op Opkomst, in die jare dertig veroorsaak het, kan moeilik beskryf word. 56


Die smous Levin, met sy tweedisselboomkarretjie, het nie alleen negosieware aan die boere verkoop nie, maar het ook die nuus van die buitewêreld aan gretige luisteraars oorvertel.


GODSDIENS


Sedert die stigting van die gemeente Swellendam in 1798 het Langkloof en Kouga daaronder geressorteer totdat 'n aparte gemeente George in 1812 tot stand gekom het en die leraars van hierdie nuwe gemeente na die sieleheil van die mense van Langkloof en Kouga moes omsien. Sedert 1864 het J.M. Gerber van Braamrivier as een van die twee "plaaslike" ouderlinge in George se kerkraad gedien. In


1866 het die amptelike gemeentestigting van Uniondale plaasgevind. Voortaan sou Kouga onder hierdie gemeente ressorteer en in die eerste kerkraad van hierdie gemeente het ook ouderling J.M. Gerber en diaken P.J. Ferreira uit die Kouga sitting gehad. Op 30 November 1907 is die gemeente Onzer op Krakeelrivier gestig, maar die naam is in 1909 na Joubertina verander, ter ere van ds. W.A. Joubert wat lank die predikant van Uniondale was. In die eerste kerkraad van die gemeente Onzer is Kouga verteenwoordig deur: Ouderling H.M. (Groot Hendrik) Gerber - Brandhoek; diaken H.M. (Kriek) Gerber - Braamrivier; diaken O.J.O. (Ockert Been) Ferreira - Opkomst.


Ouderling Groot Hendrik Gerber was ook 'n lid van die boukommissie van die nuwe kerk wat in 1911 ingewy is. Die eerste predikant, ds. P.J. Retief, het besluit om een keer per kwartaal op 'n Sondag in Kouga 'n buitediens te gaan hou. In 1915 is daar ook vir die eerste keer op Braamrivier 'n dankfees gehou, wat die mooi bedrag van £75 (11/6 per lidmaat) opgelewer het.57


'n Baie lang periode het al die Blanke bewoners van die Onder-Kouga aan die Nederduitse Gereformeerde Kerk behoort, totdat een gesin teen omstreeks 1950 by die Sewende Dag Adventistekerk aangesluit het. Die mense was besonder kerkvas en die godsdiens het 'n belangrike rol in hulle daaglikse lewe gespeel. Wyksbidure, en veral die Week-des-gebeds en die Pinksterbidure, is besonder getrou bygewoon. Dankfeeste in die Onder-Kouga was gebeurtenisse waarna alle bewoners van die streek met verwagting uitgesien het.58


Huisgodsdiens is gereeld gehou en wanneer die kerk nie op Sondae besoek kon word nie, is preke uit Die Kerkbode of preekbundels deur die hoof van die huis vir die gesin voorgelees. Die driemaandelikse Nagmaalviering op Joubertina was 'n geleentheid wat geen bewoner van Kouga wou misloop nie, want

benewens die sielespyse wat hy ontvang het, was dit ook 'n tyd vir inkope doen en sosiale verkeer met sy medemens.


Tydens Nagmaalnaweke het die Kougamense in die "Kougakamp", 'n terrein met sinkgeboue, op Joubertina tuisgegaan.



ONDERWYS


Klein plaas- of buiteskooltjies op Hoeree, Kleinrivier, Brandhoek, Braamrivier en Opkomst het 'n min of meer wisselvallige bestaan gevoer, maar tog het elkeen op sy beskeie wyse as 'n klein kultuursentrum gedien en tot die opvoeding van die gemeenskap bygedra. Leerkragte het gekom en gegaan, maar tog is daar enkele name wat telkens weer opduik wanneer oor die onderwys in Onder-Kouga gepraat word. Wat Opkomst betref, is daar Koba Ferreira, Enna (Anna?) Kuys, Biedie Jonker, Lenie Ferreira (néé Olivier), Dirk C. Uys, Janie Veldman, Ben Barnard, Anna Bezuidenhout, John Haasbroek, Anna Oosthuisen en Daan (Kriek) Gerber. Laasgenoemde was vir vyf en twintig jaar ononderbroke die skoolhoof van die twee-manskooltjie op Opkomst. Op Braamrivier word die name van Van Rensburg, Anna Rademeyer, C.J. Stroebel, Biedie Jonker, mej. Booyens en Christina Ferreira (néé Meyer) onthou. Laasgenoemde het vir twintig jaar afwisselend op Braamrivier en Opkomst skoolgehou. Op Brandhoek was daar onder meer "Miss" Breytenbach, "Miss" Keyter, mnr. Trytsman, Maria Ferreira (néé Fourie) en Anna Wasserman; op Kleinrivier Gert Kriel en die eggenote van Dolf Jonker en op Hoeree ene Zaayman.


In baie gevalle het die onderwysers nie alleen onderwys gegee nie, maar het hulle ook die rol van sieketrooster vervul deur na die liggaamlike en geestelike welstand van die gemeenskap om te sien.59


OORLOG EN POLITIEK


Na die stryd tussen Blank en Nie-Blank is reeds hierbo verwys. Wat die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) betref, beweer Hopkins dat die beroemde kmdt. Gideon Scheepers vanuit die Kouga op Krakeel toegesak en die poskantoortjie aldaar geplunder het.60 Verder weet ons dat Daniel Gerber en Pieter Kemp van Braamrivier en Pieter Johannes Kriel en Matthys Johannes Vosloo van Hoeree hulle stemreg lewenslank verloor het omdat hulle as Kaapse rebelle aan Boerekant geveg het.61.


"Klein" Andries Gerber van Braamrivier is op Uniondale in die tronk gestop omdat hy voedselvoorraad in 'n bakkrans op sy plaas weggesteek het toe hy verneem het dat alle voorrade deur die Engelse gekonfiskeer word.62


Die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het die Onder-Kouga nie direk geraak nie, maar het enkele ondersteuners van genls. Louis Botha en Jan Smuts tog van hulle vervreem - veral na die teregstelling van Jopie Fourie, wat in hierdie streek geweldige emosie ontketen het.


Die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) het wel sy rimpelinge in die Onder-Kouga laat voel. 'n Bewoner van Braamrivier het in "die Noorde" gaan veg, maar kwaadwilliges en teenstanders van deelname aan die oorlog het beweer dat hy "net aartappels geskil het". Die oorgrote meerderheid van die Kougamense was lede van die Ossewa-Brandwag, met Ockie "Buks" Ferreira as kommandant en Bettie "Drik" Gerber as kommandante.


Genl. B.J. Vorster, die latere eerste minister en staatspresident, het 'n saamtrek van Kouga se vurige O.B.'s in hierdie onstuimige tye toegespreek voordat hy in Koffiefontein geïnterneer is.


Polities het die Onder-Kouga gedurende die negentiende eeu onder die kiesafdeling George geressorteer maar het in die twintigste eeu deel van die kiesafdeling Humansdorp geword. As sodanig is die gebied onder andere deur min. C.W.M. (Charlie) Malan, min. P.O.(Paul) Sauer en George Malan, seun van min. C. W.M. Malan, in die Parlement verteenwoordig.63


ONTSPANNING


Op sosiale terrein was die vernaamste kenmerk van die samelewing in die Onder-Kouga die feit van afgesonderdheid, maar dan die afsondering van 'n betreklik, groot groep mense en nie die soort afsondering waarin 'n enkele huisgesin in die dunbevolkte dele van ons land verkeer nie. Dit het beslis ook 'n invloed op die ontspanningsvorme van die bewoners van Kouga gehad.


Wat georganiseerde ontspanning betref, was die stigting van 'n Christelike Jongeliede- en Debatsvereniging in 1912 in die Onder-Kouga beslis 'n belangrike mylpaal.64 Die gereelde byeenkomste van hierdie vereniging het nie alleen vir sosiale omgang en die stimulering van die mense se redeneervermoë gesorg nie, maar het ook die geleentheid gebied vir die beoefening van die voordrag- en sangkuns. Die jaarlikse skoolkonserte het ook groot aftrek gekry.


Spontane sangaande rondom 'n "musiekie" (serafynorreltjie) of huisorrel was baie gewild. Sommige families het dikwels boeredanse gereël. Die bewoners van Kouga is bekend daarvoor dat hulle 'n goeie oor vir musiek het. Dit is waarskynlik nie sommer toevallig dat daar soveel ou Afrikaanse liedjies is waarin die naam Ferreira voorkom nie. Oor die oorsprong van die liedjie "Vat jou goed en trek Ferreira" is daar al baie gespekuleer,65 maar wanneer ons in aanmerking neem dat daar in Onder-Kouga werklik 'n Jan (Been) Ferreira (1848-1896) geleef het, lyk dit waarskynlik dat die liedjie juis daar sy oorsprong kon gehad het.


Die eenkeer-per-week-gaan-poshalery by die klein poskantoortjie langs die huis van Pieter "Pos" Gerber op Braamrivier het die mense se leesstof verskaf. Ongetwyfeld was Die Kerkbode die gewildste tydskrif, maar tog het Die Brandwag, Die Huisgenoot, Die jongspan en, heelwat later, Die NaweekPos ook groot aftrek gekry.


Vreeslike vakansiehouers was die mense nie, maar wanneer hulle dan wel in die buitewêreld ontspanning gaan soek het, was die strand by Jeffreysbaai vir dekades die enigste plek wat oorweeg is. Die bewoners het nie 'n groot behoefte aan vreemde plekke gehad nie, want hulle is basies geselsmense en jy gal moeilik beter storievertellers en mense wat die fynspotkuns bemeester, kan vind as juis hierdie mense. Hulle het ook 'n basiese belangstelling in hulle medemens se doen en late, sodat afluister van gesprekke oor plaastelefoonlyne jare gelede tot 'n fyn ontspanningsvorm ontwikkel het.


Sportmal is die Kougamense ook nie, want op die plase het hulle waarskynlik genoeg oefening gekry. Op feesdae is wel jukskei gespeel en skyf geskiet, maar speletjies waarin soenery 'n belangrike element was, was veel gewilder as vorm van ontspanning, byvoorbeeld, boompieverplant en swartvark.


Enkelinge het graag in die berge gaan jag en daar was selfs diegene wat in die Kougarivier gaan palings vang het.

In die laat dertigerjare het hierdie transportvragmotor sy verskynlng in Onder-Kouga gemaak om vrag en passasiers te vervoer. (Kliek op foto vir groter beeld)

SPYS EN DRANK


Die Kougamense se daaglikse dieet was betreklik eenvoudig en die middagete was die hoofmaal. Die stapelvoedselsoorte was skaap- en beesvleis, aartappels, pampoen, patats, boontjiesop en brood. Veral die patat het 'n belangrike plek in die dieet ingeneem en is op verskillende wyses voorberei, byvoorbeeld gestowe met baie suiker en botter, in sy skil in die oond gebak en in sy skil gekook - laasgenoemde staan bekend as "broek-en-baadjie-patats". Mielierys (ook genoem mieliegruis) met suiker en melk was 'n gewilde ontbytkos en melkkos was by uitnemendheid 'n aanddis. Skaapboud en rugstring en ryspoeding en nasionale poeding (rolpoeding) was gewilde geregte op Sondae en by spesiale geleenthede.


Geen besoeker wat Kouga se melktert en handtertjies geproe het, sal dit ooit kan vergeet Die. Die gewildste drank was ongetwyfeld egte moerkoffie, maar heuningbier (hier karrie genoem) het ook sy aanhangers gehad.66


In 1918 het ds. P .J. Retief dit selfs nodig gevind om sy stem teen die maak van karrie te verhef omdat dit in enkele gevalle tot dronkenskap gelei het, maar ook omdat sommige boere hulle boerderye verwaarloos het deur dae lank in die veld na heuningneste te soek.67


GESONDHEID


Weens die gebrek aan kalk en fosfate in die grond en water, staan die bewoners van die Onder-Kouga bekend vir hulle slegte tande. 'n Gebrek aan jodium in die grond veroorsaak weer die algemene voorkoms van kropgeswelle ("goitres"), wat meestal onder die vrouens voorkom, maar gelukkig nie van die gevaarlike soort is nie.68 In 1977 het prof. Andries Brink, voorsitter van die Mediese Navorsingsraad, en 'n maatskaplike werkster by die Mediese Navorsingsraad se Instituut vir Biostatistiek, mev. Marie Torrington, bekend gemaak dat die Ferreiras (saam met die Rautenbachs en Whiteheads) die waarskynlikste prooi is van die oorerflikheidsfaktor van 'n oorerflike hartsiekte wat toe in Suid-Arika ontdek is. Tydens hulle navorsing het dit bekend geword dat die siekte veral in die omgewing van Langkloof en Port Elizabeth voorkom.


Deur genealogiese navorsing het mev. Torrington vasgestel dat die siekte moontlik reeds in die agtiende eeu in Oos-Kaapland voorgekom het.69


In 'n afgeleë streek soos die Onder-Kouga was dit vroeër maar moeilik om 'n sieke by 'n dokter te kry, sodat vir 'n baie lang periode op ou boererate teruggeval is.


Daar is te veel rate om almal op te noem, maar interessantheidshalwe word enkeles tog gegee: afgetrekte wynruit vir koors, afgetrekte bokmis of brandnetels vir masels, afgetrekte granaatskil vir wurms, afgetrekte boegoe vir alle blaas- en nierkwale, knoffel en asyn as voorbehoedmiddel teen griep, wildeals en ghoenasap vir diarree, warm beesmis en asyn vir seerplekke, broodpap vir bloedvergiftiging, kersvet en lampolie vir skurwe voete, muishondblaar vir seerplekke, renosterbos in die hand hou vir pyn in die sy, bitterappel rook vir tandpyn, 'n paar druppels warm haaspis in die oor gooi vir oorpyn, warm semels in 'n sakkie vir die verligting van pyn, blouseep en suiker, gemeng met speeksel, vir bloedvinte en warm katvelle vir inflamasie.70


Groot gesinne was in die Onder-Kouga eerder die reël as die uitsondering. Die wieg het selde leeg gestaan en die bevallings is deur plaaslike vroedvroue soos Lottie "Niklaas" Ferreira, haar dogter, Lottie "Pieter" Ferreira, Annie "Jan-Frans" Ferreira en Katriena "Mannie" Ferreira behartig. Wanneer iemand te sterwe gekom het, was daar ook spesiale persone wat die "uitlê" waargeneem het.71


Die Groot Griep van 1918 het ook die Onder-Kouga getref, maar nie epidemiese afmetings aangeneem nie.72


ONTVOLKING


Ouer mense noem verskeie oorsake vir die geleidelike ontvolking

van die Onder-Kouga, byvoorbeeld droogtes en 'n arbeidstekort, maar dit wil tog voorkom asof die "uittrekbeweging" reeds kort na die groot vloed van 1916 begin het en deur die groot vloed van 1932 aangehelp is, aangesien hierdie "vloedens" nagenoeg vyftig persent van die beboude grond weggespoel het en die bewerkbare grondoppervlak - ook as gevolg van onderverdeling - te klein geword het om 'n bestaan te verseker en elders 'n heenkome gevind moes word.73


Ook die daling van die wolpryse teen die middel van die jare vyftig het boere laat besluit om te trek, maar die een enkele faktor wat waarskynlik die meeste tot die ontvolking van die Onder-Kouga bygedra het, is die feit dat meer en meer seuns uit hierdie gebied gaan studeer en elders 'n heenkome gevind het. Maar dan moet natuurlik in gedagte gehou word dat die ander faktore hulle juis op verdere studie kon laat besluit het.


TOEKOMSBLIK


Vir 'n boorling van die Onder-Kouga is dit 'n hartseer ervaring om vandag daar deur te ry en te moet sien hoe eertyds bewoonde huise leeg staan en geleidelik murasies word, maar wanneer jy sien hoe enkele jong en energieke boere op Brandhoek, Braamrivier en Opkomst vooruitbeur en die een na die ander plaas opkoop, besef jy dat hierdie ontvolking van die streek 'n  onafwendbare noodsaaklikheid was. Dan herinner jy jou ook Thunberg se opmerking in 1773 dat daar in hierdie smal strook land tussen die berge net vir twee plase plek is en wonder jy of dit nie is wat met hierdie gebied moet gebeur nie - dat slegs twee of drie boere die hele streek sal besit.


Tog is die gebied met sy mooi natuurskoon ook nie sonder sy moontlikhede vir die toeristebedryf nie. 'n Klompie jare gelede het die bekende skrywer W.A. de Klerk in 'n radioprogram terloops na die Kouga-, Baviaanskloof-gebied verwys, die skoonheid van die streek in sy eiesoortige en beeldryke taal beskryf en toe voorgestel dat die plasies deur die regering opgekoop en die hele kontrei tot 'n natuurreservaat verklaar moet word. Later sou hy getuig: "Ek het stom gestaan voor die grootsheid van die landskap ..."74 In jou verbeelding kan jy sien hoe die eenvoudige plaashuise gerestoureer en as verblyfplekke vir besoekers ingerig word, hoe voetslaners Hoëkop aandurf en in die koel bergwater swem, hoe inheemse wild teen die berghange wei ...


Net die tyd sal leer wat van hierdie juweel tussen die berge sal word.......



BIBLIOGRAFIE


1. S. Cloete, Skoonheid van Langkloof deur berge versteek, Hoofstad, 1979.10.25.

2. F. Le Roux, Vrugtekloof, Bylae tot Die Oosterlig, 1976.07.23; D.J. Potgieter (red. ),Standard encyclopaedia of South Africa VI     (Elsiesrivier, 1972), pp. 543-544.

3. J.H.B. Visagie, 'n Geografiese studie van Langkloof en die Kouga. (Universiteit van Stellenbosch, 1947), pp. 7-8.

4. Potgieter (red.) op. cit., p. 451; P.E. Raper, Streekname in Suid-Afrika en Suidwes (Kaapstad, 1972), pp. 58-59.

5. W.S. Barnard, P.S. Smit en J.A. Van Zyl, Suid-Afrika: die land en sy streke (Elsiesrivier, 1972), pp.171-172; Visagie, op. cit.., p. 8.

6. Barnard e.a., op. cit., p. 176; Visagie, op. cit., pp. 8-9; Potgieter (red.) op. cit., p. 451; E.C. Godee Molsbergen(red.) Reizen in Zuid-     Afrika in de Hollandse tijd IV    (s-     Gravenhage, 1932), pp. 29 en 235.

7. Visagie. op. cit., pp. 12-13.

8. Ibid., pp. 19-27 en 73.

9. Ibid., pp. 17-18; Persoonlike mededeling: S.S. Ferreira, Joubertina, 1982.05.22.

10. G. Gibbs, Suid-Afrika se hoogste betondam, Die Landbouweekblad 45 (2359), 1964.10.06, pp.4-5; Barnard e.a., op, cit., p.177; D.J.      Potgieter (red.), Standard      encyclopaedia of Southern Afica V (Elsiesrivier, 1971), pp. 114-115. ,

11. Persoonlike mededeling: S.S. Ferreira, Joubertina, 1982.05.22; K.C. Palgrave, Trees of Southern Afnica (Kaapstad, 1977), pp.      52,57,96,176,204,205,301,507,709,759 en 777.

12. D.J. Potgieter (red.), Standard encyclopaedia of Southern Africa III (Elsiesrivier, 1971), p. 135; Visagie, op. cit., p. 33. 13. Visagie,      op. cit., pp. 33-34.

14. Ibid., pp. 30-32; Potgieter (red.), op. cit., (Elsiesrivier, 1973), p. 287.

15. Persoonlike mededeling: S.S. Ferreira, Joubertina, 1982.05.22

16. Visagie, op. cit., p. 32; Palgrave, op. cit., pp. 130, 132, 137, 139 en 143.

17. Visagie, op. cit., p. 32; Palgrave, op. cit., pp. 76 en 80; B. Jeppe, South African aloes (Kaapstad, 1970), pp. 40 en 48.

18. Persoonlike mededeling: S.S. Ferreira, Joubertina, 1982.05.22; Palgrave, op. cit., p. 162; H. Herre, The genera of the      Mesembryanthemaceae (Kaapstad, 1971),      pp. 84, 196, 268 en  290.

19. H.A. Baker en E.G.H. Oliver, Ericas In Southern Africa (Kaapstad, s.j.), p. xxxi.

20. Persoonlike mededeling: S.S. Ferreira, Joubertina, 1982.05.22. Vgl. ook R.J. Labuschagne en N.J. Van Der Merwe, Soogdiere van die      Krugerwildtuln en ander      nasionale parke (Johannesburg, 1963), pp. 30, 60 en 104.

21. Persoonlike mededeling: S.S. Ferreira, Joubertina, 1983.01.05. Vgl. ook G.R. McLachlan en R. Liveridger, Roberts birds of South      Africa (Kaapstad, 1963), waarna      die nommers agter elke naam verwys.

22. G.S. Nienaber en P.E. Raper,Toponymlca Hottentotica A**, H-Z (Pretoria, 1977), pp. 730-731.

23. E.J. Du Plessis 'n Ondersoek na die oorsprong en betekenis van Suid-Afrikaanse berg- en rivierername: 'n histories-taalkundige      studie (Kaapstad, 1973),p p. 125-      126; RAPER op. cit., pp. 58-59.

24. Nienaber en Raper op. cit., p. 731.

25. E.C. Godeem Molsbergen (red .), Reizen in Zuid-Afrika in de Hollandse tijd II ('s.Gravenhage, 1916), p. 14.

26. Persoonlike mededelings:S .S. Ferreira, Joubertina, 1982.05.22en 1983.01.04. Vgl. ook M.C. Van Zyl, Oorgang 1795-1806, in C.F.J.      Muller (red.), Vyfhonderd jaar       Suid-Afrikaanse geskiedenis( Pretoria, 1969),p . 96.

27. H.C. Hopkins, Gedenkboek by die goue jubileum van die Ned. Geref. Kerk, Joubertina, (S.p., 1957), p. 7; skriftelike mededeling: F.A.      Gerber, Braamrivier,      1983.02.03.

28. Vgl. Van Zyl op. cit., p. 96.

29. W.B.E. Paravicini di Capelli Reizen in de binnen-landen van Zuid-Afrika (red. W.]. de Kock) (Kaapstad, 1965), p. 66, n. 287.

30. Vgl. T. V. Bulpin, Discovering Southern Africa (Kaapstad, 1970), p. 193.

31. G.M. Theal, Records of the Cape Colony from December 1796 to December 1799, 11 (Kaapstad, 1898), pp. 448-449.

32. H. Lichtenstein, Travels in Southern Africa in the years 1803, 1804, 1805 and 1806 (Kaapstad, 1928), p. 268.

33. E. Palmer en G. Jenkins, The companion guide to South Africa  (Johannesburg,1 978),p p. 216 en 275; Lichtenstein, op, . cit., P.252;      G.M. Theal, Records of the     Cape Colony from May 1809 to March 1811, VII (Kaapstad, 1900), pp. 142-143.

34. C.J.S. Strydom, Die Vrugteskuur van Suid Afrika, Die Landbou weekblad 35 (1781), 1953.09.02, pp.19-21.

35. C. P. Thunberg, Travels in Europe, Africa and Asia, made between the years 1770-1779, II (Londen, s.j.) pp. 58-59; Hopkins, op.      Cit.,   p. 7.

36. Nienaber en Raper, op. cit., pp. 731 en 770.

37. Theal, op. cit., p. 126.

38. Strydom, op . cit., p p. 19.21.

39. Hopkins,op. cit., p.7.

40. W.J. DE Kock en D. W. Krüger (reds.) Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek II (Kaapstad, 1972), pp. 165-167; Godee Molsbergen       (red.), op. cit., p. 233;       Hopkins op. cit., p. 7.

41. Visagie op. cit., pp. 50-51

42. Ibid.,  pp. 51-53.

43. Cape Of Good Hope, List of persons residing in the electoral division of George, whose names have been registered in the year 1891,       as qualified to vote in the       election of members for the Parliament of this Colony (Kaapstad, 1892), pp. 53-57; Cape of Good       Hope list of persons residing in the electoral division of      George,       whose names have been registered in the year 1903, as       qualified to vote in the election of members for the Parliament of this Colony (Kaapstad. 1903), pp. 96-100.

44. Nasionale Oorlogsmuseum van die Boererepublieke. Bloemfontein: Naamlys van Kaapse rebelle.

45. C.C. De Villiers en C. Pama, Geslagsregisters van die ou Kaapse families I, A-K (Kaapstad, 1966). p. 240; Hopkins, op. cit., p. 108.

46. Vgl. Ferreira-lêer van Afdeling Genealogie. lnstituut vir  Geskiedenis-navorsing. RGN, Pretoria.

47. Persoonlike mededeling: S.S. Ferreira. Joubertina, 1982.05.22; mev. V. van Rensburg. Monumentpark, Pretoria. 1983.01.08.

48. F.J. Potgieter Geografiese invloede op ons beskawin~patroon, Koers 33(5). Maart/ April 1966, p. 357.

49. Persoonlike mededeling: F.A. Gerber, Braamrivier, 1982.12.29.

50. J.J. Blom, Hier is die Paradys herwin, Die Huisgenoot 34 (1467), 1950.05.05,p . 26; Visagie op. cit., pp. 43 en 84.

51. F. LE Roux, op. cit.

52. Visagie op. cit., pp. 77-78.

53. Ibid., p. 85.

54. Persoonlike mededeling: F.A. Gerber, Braamrivier, 1982.12.29.

55. Vgl. Visagie op. cit., pp. 42-43; Blom,op. cit., p. 26.

56. Vgl. Visagie op. cit., p. 54; Skriftelike mededeling: F.A. Gerber, Braamrivier, 1983.02.03

57. Hopkins op. cit., pp. 14-15, 17-18, 22, 24, 27-29, 32 en 38.

58. Persoonlike mededeling: S.S. Ferreira, joubertina, 1982.05.22.

59. Persoonlike mededeling: F.A. Gerber, Braamrivier, 1982.12.29; S.S. Ferreira, joubertina, 1982.05.22; mev. H.C. Oelofsen, Port       Elizabeth,1983.01.07.

60. Hopkins op. cit., p. 91.

61. Vgl. Nasionale Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein: Naamlys van Kaapse rebelle.

62. Persoonlike mededeling: F.A. Gerber, Braamrivier, 1983.01.08.

63. Persoonlike mededeling: F.A. Gerber, Braamrivier, 1983.01.08.

64. Hopkins op. cit., p. 84.

65. Vgl. C.G. Henning, The origin of the song 'Vat jou goed en trek Ferreira', Lantern 29(1), Desember 1979, pp. 71-73.

66. Persoonlike mededeling: S.S. Ferreira, Joubertina, 1982.05.22.

67. Hopkins, op. cit., p. 37.

68. Visagie op. cit., pp. 64-65.

69. K. Terblanche Hartkwaal loop in die families, Rapport, 1977. 12.18

70. Persoonlike mededeling: S.S. Ferreira, Joubertina, 1982.05.22.

71. Persoonlike mededeling: S.S. Ferreira, Joubertina: 1982.05.22.

72. Persoonlike mededeling: F.A. Gerber, Braamrivier, 1983.01.08

73. Visagie op. cit., pp. 46-47.

74. Skriftelike mededeling: W.A. de Klerk, Saffier, Huguenot, 1982.12.12.


(Die oorspronklike artikel van Dr. O.J.O. Ferreira kan gevind word deur hier te kliek.)


Laagwaterbrug oor Kouga (Kliek vir groter beeld) .......in groen weivelde na waters waar rus is....... Uitsig oor rivier DSC_6432 S.jpg

Woonplek

Familienaam

1891

1903





Hoeree

Beer


3


Vosloo

9

8





Kleinrivier

Ferreira

3

6


Meyer

-






Brandhoek

Ferreira


2


Gerber

2

3


Kriel




Terblanche







Braamrivier

Ferreira




Gerber

4

6


Kriel







Opkomst

Ferreira

7

12


Meyer

-


Langkloof word in drie gedeeltes, naamlik Bo-, Middel- en Onder-Langkloof verdeel. Grensend aan Middel- en Onder-Langkloof vind ons die Kougas, wat 'n reeks bewoonbare bekkens, plaaslik as Bo- en Onder-Kouga bekend, gekenmerk word.³ Hierdie artikel handel meer spesifiek oor die Onder-Kouga.


Die Kougastreek beslaan die Kougaberge en die Kougariviervallei. Die Kougaberge begin naby Uniondale, is ongeveer 150 kilometer lank en het 'n Oos-na-Wes aslyn wat parallel met Langkloof en die kuslyn, loop. Kouga is ongeveer 50 kilometer van die kus en lê net noord van die Langkloofvallei.4


TOPOGRAFIE


In die noorde word die Onder-Kouga deur die Kougaberge begrens. Kougakop, plaaslik bekend as Hoëkop, is die hoogste piek in hierdie omgewing, naamlik 1 850 meter bo seespieël. Op 'n helder dag is die uitsig van hierdie punt in die rigting van Langkloof en Baviaanskloof asemrowend mooi en dit is die rede waarom talle bergklimmers Hoëkop reeds aangedurf het. Die hoër hellings van die Kougaberge is steil, maar selde baie kransagtig.


Die berge is dig opmekaar gepak, skerp opgesny deur talle klowe, waarvan die hoofstrekkingsrigting steeds oosnoordooswaarts saam met die plooiasse bly. Die Kougaklowe het die eienaardigheid dat, hoe laer jy gaan, hoe smaller word hulle sodat die riviertjies op baie plekke tussen rotsmure deurkronkel.5


Min Langklowers besef bewustelik dat hulle aan die bolope van die Kougarivier woon. Langkloof het naamlik geen eie rivier nie, maar die stroompies wat in die Tsitsikammaberge ontspring, kruis Langkloof en breek dan deur die bergreekse in die rigting van die Kougarivier.


Die vernaamste sytakke van die Kougarivier is die Diep-, Louterwater-, Krakeel-, Wabooms-, Twee-, Klein-, Sapree-, Huis-, Schrikke-, Braam-, en Opkomstrivier.


Stroomroof tussen hierdie sytakke is algemeen. Interessant is dit om daarop te let dat plekke soos Tweerivieren, Joubertina, Krakeel, Louterwater en Misgund in die Langkloof juis daar aangelê is waar groter strome die kloof in die rigting van Kouga verlaat. Die hoofstroom van die Kougarivier het sy oorsprong ongeveer vyf kilometer suid van Uniondale, vloei ooswaarts en sluit ongeveer 34 kilometer noordwes van Humansdorp by die Gamtoosrivier aan.6



GEOLOGIESE STRUKTURE


Die Onder-Kouga omvat die Hoeree-, Kleinrivier-, Brandhoek-, Braamrivier-, en Opkomstbekkens, wat met Bokkeveldskalie uitgevoer is, terwyl die res van die streek

deur Tafelbergsandsteen in beslag geneem word. Wat die

geologie van Kouga betref, vind ons dus dat die vallei-bodems hoofsaaklik uit Bokkeveldformasies saamgestel is, terwyl die heuwels en berge daaromheen uit Tafelberg sandsteen bestaan.7


KLIMAAT EN REENVAL


Klimatologiese gegewens vir hierdie streek is skaars. Die belangrikste geografiese faktore wat die klimaat van Kouga beïnvloed, is hoogte bo seevlak en afstand van die see. Die somers is gematig, maar tog veel warmer as die van Langkloof, waar die temperatuur selde bo 35°C is, omdat Kouga meer binnelands geleë is en gevolglik feitlik nooit aan mistoestande wat in Langkloof voorkom, onderhewig is nie. Die winters is koud en die hoogste bergtoppe is dikwels met sneeu bedek. Kouga lê tussen die winter- en somerreënvalstreke en kry dus winter sowel as somerreëns. Die grootste reënval kom egter in die winterhalfjaar voor. Die jaarlikse reënval wissel tussen so ongeveer 20 (500 mm) tot 40 (1 000 mm) duim per jaar, maar kan in die hoerliggende dele aansienlik hoër wees.

Die reën val gewoonlik in sagte buie, maar donderbuie uit die noorde kom ook voor.8


Onder-Kouga word sporadies deur besonder swaar reënval getref wat tot geweldige oorstromings in die nou valleie aanleiding gee. Die mense van die streek verwys hierna as "vloedens" en het 'n vaste geloof dat hierdie "vloedens" so eenkeer elke sestien jaar hulle verskyning Maak. Die "vloedens" van 1916 en 1932 was so katastrofaal in hulle uitwerking dat die Ouer geslag nog steeds met ontsag daarna verwys. Deur hierdie twee "vloedens" is op sommige plekke meer as 50% van die beboude grond weggespoel of is vrugbare landerye onder dryfsand begrawe en diep dongas uitgeruk. Diegene wat aan die sestienjaarsiklus glo, wys daarop dat daar ook in 1948, die middelsestigerjare en in 1981 groot "vloedens" was wat Onder-Kouga van die buitewêreld afgesny het.9


In 1968 is die bouwerk aan die Paul Sauer dam, een van die grootste damme in die Kaapprovinsie, teen 'n koste van nagenoeg agt miljoen rand in die Kougarivier, vyf kilometer bokant die  samevloeiing met die Gamtoosrivier, voltooi. Hoewel hierdie dam vir die Gamtoosvallei geweldig baie beteken, trek die Onder-Kouga geen voordeel daaruit nie.10


Kliek vir ander kaart

Kliek hier vir 1:250 000 kaart van dieselfde area

ONDER-KOUGA: OORSIG VAN 'N KONTREI

`n Artikel deur Dr. O.J.O. Ferreira Universiteit van Pretoria


Keer 'n man op straat voor en vra hom waar die Kougastreek lê. Die moontlikheid is groot dat hy nie die vaagste benul sal hê nie en dat die naam vir hom totaal vreemd sal klink. Vra aan dieselfde man waar Langkloof geleë is en hy sal waarskynlik 'n parate antwoord hê en die naam ook dadelik met appels in verband bring: want Langkloof is al by geleentheid "Suid-Afrika se appelparadys" genoem.¹  Langkloof lê onder in die suide van Kaapland, net noord van die kusbergreekse Outeniekwa en Tsitsikamma, en is inderdaad een van die vrugbaarste vrugtestreke van die land. Dis 'n bietjie langer as 160 kilometer en strek van Herold, noord van George, tot by die Hoogte, twaalf kilometer oos van Joubertina.²


n Uitsig in die Onder kouga

Omtrent die Skrywer - BIOGRAFIESE SKETS: O.J.O. FERREIRA


Ockert Jacobus Olivier Ferreira is in 1940 in die Onder-Kouga in die Oos-Kaap gebore en het aan die Hoërskool D.F. Malherbe in Port Elizabeth gematrikuleer. Sy naskoolse opleiding het soos volg verloop: BA (UP, 1962), THOD (NKP, 1963), BA (Hons) (UOVS, 1967), MA (UP, 1970), DLitt et Phil (UNISA, 1978) en DPhil (UP, 1994).


Ferreira was ‘n onderwyser (Hoërskool Lichtenburg), museumkundige (Oorlogsmuseum, Bloemfontein), dosent (Strydom-opleidingskool, Thaba Nchu), museumkundige (Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum, Pretoria) en hoofnavorsingsbeampte (Instituut vir Geskiedenisnavorsing, RGN) voordat hy as dosent en later professor in die Departement Geskiedenis en Kultuurgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria aangestel is.


Sedert 1980 het hy as promotor, medepromotor of eksterne eksaminator vir 27 doktorale studente en as leier, medeleier of eksterne eksaminator vir 42 magisterstudente opgetree. Hy het in Junie 1998 afgetree en hom op Jeffreysbaai gevestig, waar hy hom voltyds besig hou met navorsingtemas wat oor die kontak tussen Suid-Afrika en Portugal handel.



Prof. Ferreira is die outeur/redakteur van veertien boeke en ‘n tagtigtal tydskrifartikels en was die redakteur van Historia en die S.A. Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis. Sy lidmaatskap van vakverenigings sluit in die S.A. Vereniging vir Kultuurgeskiedenis (raadslid, 1982-1990 1992-1994, 1996-1997, voorsitter 1988-1990), Historiese Genootskap van S.A. (bestuurslid, 1990-1994), S.A. Historiese Vereniging (sekretaris, 1995-1997). Hy was ‘n lid van die Beheerraad van die Nasionale Kultuurhistoriese Museum, Pretoria (1988-1996) en die Raad vir Heraldiek (1989-1997).


Die F.A.K. het in 1994 die Prestigeprys vir Geskiedenisbevordering aan Ferreira toegeken, terwyl die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns hom in dieselfde jaar met die Erepenning vir Kultuurgeskiedenis vereer het.


In 1998 is die Historiese Genootskap van S.A. se sertifikaat vir die bevordering van die vakke Geskiedenis en Kultuurgeskiedenis aan hom toegeken, terwyl die Genootskap vir Afrikaanse Volkskunde hom in dieselfde jaar met die Erepenning vir Volkskultuur vereer het. In 2004 het die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns hom vir ‘n tweede keer bekroon en wel met die Erepenning vir Geskiedenis.


Die tweemanskooltjie op Opkomst, die godsdienstige sosiale en kulturele middelpunt van die gemeenskap met links daarvan die eienaars- en regs die onderwysershuis (Kliek op foto vir groter beeld)

Kliek my!

Kliek hier vir 1:250 000 kaart van dieselfde area